Laai volkleurprente binnekort af

                           

           

                   

     

            

Laai inkleurprente af

Kliek op onderstaande prentjies om af te laai

  

  

 

Die skrywer: Attie Snyman

Attie Snyman was ’n onderwyser en later dosent en departementshoof by die South African College for Teacher Education se departement Videoproduksie.  Na sy uittrede uit tersiêre onderwys vervaardig hy televisiereekse, dokumentêre films en korporatiewe videoprogramme vir die privaatsektor. Hy ontvang  ook ’n Pendoringtoekenning vir die vervaardiging van die mees oorspronklike Afrikaanse televisieadvertensie. Hy gee ook klas in dokumentêre filmvervaardiging by Tshwane Universiteit vir Tegnologie se filmakademie en departement joernalistiek. Gedurende hierdie tyd publiseer hy ’n handboek  oor dokumentêre filmvervaardiging, Producing Documentaries, a practical guide

 Attie het op die plaas Koedoeskop in die Thabazimbi-omgewing grootgeword waar sy groot liefde vir die natuur en bosveldstories ontwikkel het. Dit is ook  hier waar Blinktand van Bosveldparadys ontstaan het – en so het Attie later sy Blinktandstories vir sy kinders, nefies en niggies en selfs vir  sy matriekleerlinge begin vertel. Jare later het sy familie hom aangemoedig om dit neer te skryf voordat die stories verlore sou gaan. So gemaak en so  gedaan en vandag kan almal, selfs grootmense, Blinktand se lekker stories lees!

 

Media Inligting

Opsomming van boekbespreking tydens bekendstelling van Blinktand van Bosveldparadys tydens die Boekejol en Filmrolfees

Gesprekleier: Samantha Buitendach

Jeugliteratuur

 

Agtergrond: Attie Snyman

Attie Snyman was ’n onderwyser en later dosent en departementshoof by die South African College for Teacher Education se departement Videoproduksie. Na sy uittrede uit tersiêre onderwys vervaardig hy televisiereekse, dokumentêre films en korporatiewe videoprogramme vir die privaatsektor. Hy ontvang ook ’n Pendoringtoekenning vir die vervaardiging van die mees oorspronklike Afrikaanse televisieadvertensie. Ek gee ook klas in dokumentêre filmvervaardiging by Tshwane Universiteit vir Tegnologie se filmakademie en departement joernalistiek. Gedurende hierdie tyd publiseer ek ’n handboek oor dokumentêre filmvervaardiging, Producing Documentaries, a practical guide.

 

Waaroor gaan Blinktand?

Blinktand van Bosveldparadys handel oor die avonture van Blinktand, die grootste, sterkste en slimste vlakvark wat ooit in Bosveldparadys geleef het. Die storie begin by die geboorte van Blinktand en eindig waar hy die president van Bosveldparadys word na die dood van Boskaas, die ou leeu-president. In hierdie avontuurlike reis beleef die jong leser nie net gevaarlike gebeure en spanning saam met Blinktand en sy bekkige vriend Kierie Kraai asook die lawaaierige Bakkies die bobbejaan nie, maar ook humoristiese situasies wat enige leser – jonk of oud – sal laat skaterlag.

 

Waar kom die Blinktandstorie vandaan?

Attie Snyman het op die plaas Koedoeskop in die Thabazimbi-omgewing grootgeword waar hy ʼn groot liefde vir die natuur en bosveldstories ontwikkel het. Dit is ook hier waar Blinktand van Bosveldparadys ontstaan het – en so het Attie later Blinktandstories vir sy kinders, nefies en niggies en selfs vir my matriekleerlinge begin vertel. Jare later het sy familie hom aangemoedig om dit neer te skryf voordat die stories verlore sou gaan. So gemaak en so gedaan, maar Attie het eers die Blinktandstorie by Leatitia Ludwick se skool voor ʼn klas getoets. Hy het dit voorgelees en die kinders het dit baie geniet. Hierna het hy geweet die storie gaan werk en het dit aan Briza voorgelê.

 

Teikengroep: Intermediêre ouderdomsgroep, 8 tot 12 jaar.

Skrywers van kinder- of jeugboeke moet die verskillende ouderdomskategorieë as nismark goed verstaan. Dit gaan nie bloot oor ʼn indeling van ouderdomsgroepe nie, maar ook oor ingeligte kennis van die onderskeie ontwikkelingsfases van kinders. Dit sou goed wees om iets van ontwikkelingsielkunde of psigopedagogiek te verstaan. Onderwysers verstaan dit nogal goed.

Kenmerkend van hierdie ouderdomsgroep is die verruiming van intellektuele en kognitiewe vermoë asook gepaardgaande ontwikkeling van konkrete denke. Hulle raak geïnteresseerd in hul natuurlike omgewing, hoe sake aanmekaar steek en hoe dit werk. Hulle sosiale vaardighede asook hul emosionele begrip en meelewing ontwikkeling terselfdertyd saam met hul intellektuele verruiming en konkrete denke. Eienskappe soos simpatie, empatie, medemenslikheid, respek en waardering tree nou sterk na vore. Hulle begin die lewe nou anders sien en beleef. ʼn Meer verfynde en skerpsinnige begrip vir humor, komiese situasies en dialoog ontwikkel nou.

 

Naamgewing in die verhaal is baie gepas! Vertel ons meer daarvan.

Die name van dierekarakters is beskrywend van hulle voorkoms Die mees opvallende kenmerk van ʼn vlakvark is hulle groot tande. Daarom het al die vlakvarke in die verhaal “tandname”. Blinktand het sy naam te danke aan sy pragtige skoon tande omdat hy elke oggend sy tand versorg deur hulle aan ʼn boomstam blink te skuur. Blinktand se pa en ma is Groottand en Mooitand, terwyl sy broer Langtand is, maar later Vrottand geword het omdat hy nie sy tande versorg het soos vlakvarke moet doen nie. Die enigste vlakvark wat nie ʼn tandnaam het nie is Knoetsie, die mooiste vlakvarkmeisie in Bosveldparadys op wie Blinktand verlief geraak het. Sy het die mooiste knoetsies op haar gesig wat rooi gloei wanneer sy skaam of verleë raak. Dan is daar Kierie die kraai, Bakkies die bobbejaan en Boos die Verskriklike, die gevaarlike en oorlogsugtige president van Gevaarvlakte. Ander interessante name is Boskaas die ou leeupresident, Vlek die luislang, Nek die kameelperd, Klippie die dassie en Kaptein Strepe van die meerkatpolisie.

 

Waarom juis ʼn storie oor ʼn vlakvark?

Dierestories vir kinders gaan gewoonlik oor groot, sterk en slim diere. Die koning van die diere is altyd ʼn leeu. In die diereryk is ʼn vlakvark maar ʼn minderwaardige dier. Hulle is nie baie groot nie en hulle is lelik met hulle knoetse en tande. ʼn Vlakvark is maar ʼn vark en niks anders nie. In die diere-hierargie is hulle, in vergelyking met die groot vyf en ander pragtige bokke, niksseggend. Dan is hulle maklike prooi vir roofdiere. Die arme goed. Hulle is egter baie interessante diere om dop te hou.

        So het ek hulle as kind baie dopgehou in die veld. Die manier waarop hulle wortels grawe en vreet kan geen ander dier nadoen nie. Dan skuif hulle ook agteruit in ʼn vlakvarkgat in. Vroegoggend en veral na die reën, kan ʼn vlakvark baie uitbundig raak. Dan hardloop hulle rond, bokspring koddig rond met hulle kort bene, draai in die rondte en rol in die grond. Vlakvarke is baie snaaks.

        Omdat vlakvarke so anders as ander wilde diere is, het ek besluit om oor hierdie eienaardige spesie, stories vir kinders te vertel. So is Blinktand, die “under dog”, gebore wat uiteindelik president van Bosveldparadys geword het. Sy naaste vertrouelinge is ook diere met ʼn minderwaardige status. Kierie is ʼn kraai en Bakkies ʼn bobbejaan. Uiteindelik het hulle al drie sterk leiersfigure in Bosveldparadys geword.

 

Daar is ook heelwat kontrasterende en kleurvolle karakters in die boek. Hoe belangrik is dit om die kontras tussen goed en kwaad uit te beeld?

Die kontras tussen goed en kwaad in Blinktand word nie slegs deur uiteenlopende karakters uitgebeeld nie, alhoewel dit ʼn belangrike element in die boek is. In Blinktand van Bosveldparadys lê kontras tussen goed en kwaad op drie vlakke.

  1. Konteks of ruimte waarin die verhaal afspeel

Daar is twee kontrasterende landstreke naamlik Bosveldparadys en Gevaarvlakte wat teen mekaar gestel word. Die eerste sin in die verhaal beskryf Bosveldparadys ʼn paradys, met ander woorde ʼn goeie plek. Bosveldparadys is ’n pragtige en vrugbare landstreek in Afrika waar net diere leef en geen mense nie. Daar is baie bome, gras, spruite en ʼn groot rivier. Die diere in Bosveldparadys gee baie om vir mekaar, maar hulle het ook baie probleme en hulle moet self planne beraam en sorg dat almal in liefde en vrede saamleef.

Gevaarvlakte word in kontras met Bosveldparadys as slegte plek gestel. Dit is ʼn droë, stowwerige landstreek met baie droë hardekoolbome, dooie stompe en honderde miershope. Hier en daar staan ’n apiesdoringboom. Reuse kremetartbome groei plek-plek en staan soos standbeelde in die droë grond. Vuil, ongeskikte diere woon in Gevaarvlakte wat geen maniere het nie. Hulle baklei en raas altyd onder mekaar en met Bosveldparadys se vredeliewende diere. Gevaarvlakte is so ’n gevaarlike landstreek dat die diere van Bosveldparadys dit nooit waag om Gevaarvlakte te besoek nie.

    2. Karakters

Die twee hoofkarakters word kontrasterend teenoor mekaar gestel. Blinktand is die held (protagonis = goed) terwyl Boos die skurk is (antagonis = sleg). Sy naam en gedrag dui ook daarop. Hy is boosaardig, uiters humeurig, onverdraagsaam, outokraties, eiegeregtig, gewelddadig en begeer Bosveldparadys. Blinktand is die absolute teenoorgestelde en is ʼn vredemaker. Verder is hy vergewensgesind, simpatiek, empaties, medemenslik en toon respek en waardering aan sy “medediere” in Bosveldparadys. Hy is die ideale leier en red Bosveldparadys en sy diere van Boos se aanslag.

     3. Gebeure – intriges/plot

Blinktand van Bosveldparadys bevat ʼn gedefinieerde storielyn met natuurlike opvolging van ʼn reeks relevante en logiese gebeurtenisse, ingekleur met drama en aksie. Die plot-fases is egter nie patroonmatig en gedwonge nie, maar volg tog breedweg Freytag se vyf plot fases.

 

Daar is hope avontuur en spanning in die verhaal. Hoe maklik of moeilik is dit om die spanningslyn te behou in so verhaal, met inagneming van die ouderdomsgroep?

Soos reeds genoem verruim die intermediêre ouderdoms groep se intellektuele vermoë. Omdat hulle meer konkreet kan dink, begin hulle verstaan hoe hulle natuurlike omgewing aanmekaar steek en kan hulle meer komplekse verhaallyne met gepaardgaande spanningslyne beter begryp. Hulle verstaan konflik, as ʼn voorwaarde vir ʼn spannende kinderverhaal, in ʼn toenemende mate.

 

Wat is die deurlopende tema van die boek?

Ongeag wie jy is, waar jy vandaan, wat jou agtergrond is of wat jou status is, kan jy suksesvol wees en ʼn leier word. Blinktand, Kierie die Kraai en Bakkies die bobbejaan is voorbeelde daarvan.

 

Wat is die onderliggende temas in Blinktand?

Blinktand van Bosveldparadys is ’n boek met sterk onderliggende opvoedkundige temas soos respek, eerlikheid, naasteliefde, nederigheid, leierskap, vasberadenheid, deursettingsvermoë, vergewensgesindheid en dankbaarheid. Begrip vir voorgenoemde eienskappe tree gewoonlik sterk na vore by die intermediêre ouderdomsgroep en die Blinktandverhaal kan bydra tot die vorming van hierdie eienskappe. Dit word nie in die verhaal gepredik nie, maar vorm deel van die natuurlike ontwikkeling van die hoofkarakters gedurende die verloop van die verhaal.

 

Briza Uitgewers is bekend vir hulle boeke wat oor die natuur handel. Hierdie boek pas perfek in hul publikasiefokus en ’n lys van plante en diere is as ’n byvoegsel agter in die boek bygevoeg. Vertel ons meer van hierdie ‘toevallige leer’ element tot die boek.

Meestal lees kinders ʼn storieboek slegs een keer en dalk nooit weer nie. Hoekom sal jy weer die storie lees wat jy ken? Daarom wou ek sien dat Blinktand meer as net ʼn storieboek moes wees. Dit moes dus groter betekenis dra as net ʼn verhaal en daarom is die boek uniek. Dit is ʼn storieboek, leesboek, leerboek, luisterboek en natuurboek. Blinktand van Bosveldparadys is ’n lees- en leerervaring wat uniek en anders as ’n gewone storieboek is:

  • Jy kan dit lees soos ’n gewone storieboek, of met die Briza Klankleser® na die volledige verhaal in die boek luister.
  • Dit is ook ʼn oudioboek en die volledige klankbaan in MP3 formaat kan van Briza Publikasies se webwerf afgelaai word. Gesiigestremde kinders kan dus na die verhaal luister.
  • ’n Lys van nuwe woorde en uitdrukkings aan die einde van elke hoofstuk help jou om jou woordeskat uit te brei.
  • Vrae aan die einde van elke hoofstuk toets jou kennis en begrip van dít wat jy gelees het.
  • Kleurfoto’s en beskrywings van die diersoorte en plante wat in die storie voorkom, leer jou meer van die natuur.
  • Die boek is geskik vir klasgebruik en vir tuisonderrig en dra by tot leesvaardigheid, geheuevaardigheid, taalvaardigheid en luistervaardigheid.

 

Het jy ander skryfwerk/stories in die pyplyn?

Ek het intussen ʼn boek oor katte klaar geskryf. Alles wat jy oor katte moet weet. Dit is ook ʼn kinderboek en gerig op 8 tot 12 jariges. Ek is mal oor katte omdat hulle sulke oulike diere is. Hoe beter jy katte verstaan hoe interessanter vind jy hulle. Katte is ongelooflike diere en baie intelligent.

 

Op die oomblik skryf ek skryf ʼn storie oor ʼn hond met die naam Emoyo. Ek het ʼn idee gekry om ʼn verhaal oor ʼn hond te skryf wat vanaf ʼn ver en diep landelike gebied saam met sy eienaar in die stad of plakkerskamp land. Hierdie vreemde wêreld hou vir Emoyo groot avontuur, maar ook groot gevare in. My dogter, ʼn veearts by Onderstepoort, het my van die AfriCanis Nguni honde vertel. Hulle is ʼn landras hond met gene wat 7 000 jaar oud is. Hulle genetiese merkers onderskei hulle van alle Westerse honde. Ek het baie navorsing oor hierdie ongelooflike honde gedoen en hieruit het ʼn lekker verhaal ontwikkel waarmee ek besig is.

 

Sal daar moontlik ’n opvolg wees vir Blinktand?

Ja beslis...as Briza my vra. Dit hang af hoe Blinktand van Bosveldparadys in die mark presteer. Ek het reeds ʼn storielyn in my kop. Hierdie keer gaan dit oor ʼn ontsnapping, verraad, spioenasie en oor ʼn vreemde dier wat in Bosveldparadys sy verskyning maak.

 

Hoe ervaar jy die skryfproses?

Stimulerend en sinvol. Ek geniet die skeppingsproses, die sit en dink en nogmaals dink en dan die skryf self sonder rituele of eienaardige gewoontes. Maar, skryf is nie slegs ʼn skeppingsproses nie. Dit is ook ʼn intellektuele proses, al skryf jy ʼn kinderboek. Jy moet eerstens jou lesers ken. Jy moet, soos in Blinktand se geval, die intermediêre kind se leefwêreld verstaan, hoe hulle hul natuurlike omgewing ervaar en hoe hulle dink en kommunikeer. Tweedens is die skryfproses as sodanig ʼn gestruktureerde proses net soos die inhoud van jou verhaal. Struktuur en kontinuïteit in die logiese en natuurlike verhaalverloop is krities. Dit is soos ʼn simfoniese werk waar al die musikale element ineenvloei om ʼn geheel te vorm. Daarsonder skryf jy ʼn gefragmenteerde verhaal sonder vloei en ritme.

 

 Het jy maklik aan Blinktand geskryf?

Ja, nogal. Blinktand het my ongeveer drie maande geneem om te skryf saam met herskryf van die manuskrip. Ek dink ek skryf maklik aan hierdie soort kinderfiksie wat terselfdertyd ook maar fantasie is omdat jy nie beperk word deur realisme nie. Mens kan dus onbeperk aan die verhaallyne en karakters skryf sonder om laf of simpel te raak. Hiermee bedoel ek ook humor wat skerpsinnig moet wees. Tog moet jou karakters eg menslike eienskappe dra sodat kinders hulle daarmee kan vereenselwig. Kinders is nie dom nie en ons is geneig om hulle te onderskat.

 

Hoe sien jy die toekomstige Afrikaanse kinderboek

Dr. Nicol Stassen van Protea Boekehuis het in sy navorsing oor die Suid Afrikaanse boekemark bevind dat die groei in die mark vir kinderboeke sedert 2009 dramaties was. Plaaslike uitgewers se omset van Afrikaans kinderboeke het tussen 2009 en 2015 met 89% vir fiksie en met ’n verstommende 291% vir niefiksie gegroei. Die Afrikaanse kinderboeke het onderskeidelik 90% en 63% van die mark vir plaaslik gepubliseerde fiksie en niefiksie beslaan.

Daar bestaan dus ʼn geweldige groot mark en behoefte vir Afrikaanse kinderboeke. Om aan hierdie mark te voorsien word talle Europese boeke in Afrikaans vertaal. Hieruit kan ons waarskynlik aflei dat daar nie genoeg Afrikaanse kinderboeke beskikbaar is nie. Dit beteken nie dat vertaalde kinderboeke nie goed is nie, maar meer Afrikaanse kinderboeke moet geskryf word teen ʼn Suid Afrikaanse konteks en leefwêreld wat kinders verstaan en waarmee hulle hul kan vereenselwig. Die Afrikaanse kinderboek het dus ʼn blink toekoms. Meer skrywers moet hierdie mark betree met goeie Afrikaanse kinderboeke.





Terug Terug na bo